Monday, June 11, 2012

Ek is PUPO!

Die fertiliteits forum se dames het 'n oulike seding as jy jou ET gehad het... jy is PUPO (Pregnant Until Proven Otherwise). Aan die begin het ek nie gedink dit is 'n goeie idee nie, want hoe erg sal die seer nie wees as jy jou bloedtoets aan die einde van die twee weke doen en dit het nie gewerk nie! Tot ek my eie Embrio inplanting gedoen het vanoggend en toe besef ek hoekom dit n goeie idee is, want op hierdie stadium is alle goeie gedagtes belangrik. Ons moet praat asof ek swanger is, want ek moet hoop he.  As dit wel negatief is op die ou end, kan ek dit dan op sy eie hanteer wanneer dit kom, so vir nou is ek PUPO!

Vanoggend toe ek daar aankom was die nuus nie te goed nie... ek het net 2 embrios oor van die 7 eierselle wat oorspronklik uitgehaal is.  Oornag het die ander twee so gefragmenteerd geraak dat hulle nie bruikbaar is nie, net soos op die fototjie van gister. Ek het toe 'n goeie 8 sel embrio oor sonder fragmentasie (soos die goeie foto in gister se post) en 'n 6 sel wat ook 'n bietjie gefragmenteer is (iewers tussen die goeie en die slegte een). Dit is die twee wat ons vanoggend ingeplant het.  Wat 'n belewenis... Johan het langs my gesit en my hand vasgehou terwyl ons gekyk het op die sonar masjien hoe die dr ons twee embies mooi plaas in die baarmoeder.  Hier is 'n fototjie van ons twee klein mikroskopiese embies...

Kliek op die foto om beter te sien.  As jy onder die groot swart kol in die middel kyk (dit is al die water wat ek moes drink om 'n vol blaas te he vir die prosedure), sal jy 'n helder wit lyn sien.  Onder daardie lyn is 'n wit sirkeltjie met 'n swart sirkeltjie om. As jy mooi kyk is daar eintlik twee wit sirkeltjies, en dit is die vloeistof waarin die twee klein embriotjies is :) As jy regs van daai twee klein helder wit kolletjies kyk sal jy 'n helder wit strepie sien, dit is die naald met die buis waarmee hulle die embrios geplaas het.


So vir nou is dit wag... twee elle lange weke se wag tot die 26ste Junie.  Dit voel aan die een kant soos 'n antiklimaks na al die harde werk, vroee oggende en "anticipation". Al wat oorbly is 'n daaglikse inspuiting en 'n paar pille, vir 2 volle weke lank... mag dit vinnig gaan!


2 comments:

Jaans said...

My Liefste Els!!!! Ek bid vir you en Johan in hierdie tyd! Mag ons Vader se hand wat lewe skep tasbaar in jou wees!!! Lief jou vreeslik

KraftiMama said...

Ag dankie Jaansie xx So lekker om van jou te hoor! Dit gaan baie goed met my en ek is nog positief. Liefde xx