Friday, June 22, 2012

Goeie Beta!

Goeie nuus, my hcg beta telling is vandag baie goed.  Die telling vandag is 152, so dit het meer as verdubbel van 64 af. Dit lyk nie soos 'n tweeling swangerskap nie, so ons is eerlikwaar 'n bietjie verlig, so veel soos ons ook opgewonde sou wees oor 'n tweeling, maar die 6 week scan sal definitief kan se.  Ek het al 'n scan datum, maar Johan is dan in Londen so ek wil dit eers skuif en sal julle dan laat weet wanneer dit sal wees.

Ek is oorweldig van vreugde en is so dankbaar vir God se genade en liefde vir ons. Ek is ook so baie dankbaar vir elkeen van julle se gebede en liefde in hierdie journey... ons journey is nog nie tot 'n end nie, maar 'n nuwe een het nou begin en ek kan nie genoeg vir God dankaar se vir so 'n wonderlike voorreg nie, en dan is die beta telling nog so goed dat ek nie hoef te wonder daaroor nie! Amazing

Dan het ons nog baie goeie nuus.... Ons het nie net hierdie blessing van 'n positiewe toets gekry op Johan se verjaarsdag nie, ons het NOG 'n HUGE blessing gekry... n dubbel blessing! Ons trek Kaap toe! Ons het al 'n rukkie daaraan begin dink en uitgewerk hoe ons dit sal doen en toe ons vir Johan se verjaarsdag Kaap toe gaan het ons sowaar ons droomhuis in 'n droom Estate gekry op sy verjaarsdag, minute nadat ek op 'n tuis toets stokkie gepiepie het :) Ons trek 1 September na Zevenwacht Estate buite Kuilsrivier, so 20 min van Stellenbosch en 20 min van Durbanville en 20min van die lughawe af. Johan gaan nog twee keer 'n week vlieg, maar hy gaan darem elke aand by die huis slaap so dit is goed.  n Double portion indeed! In die verloop van 'n uur het my wildste drome waar geword en op 'n manier wat ek nooit sou kon raai nie. God is goed!

Wednesday, June 20, 2012

Positief!! :)

Liefste familie en vriende, na 5 en 'n half jaar se gebede is ons wildste drome bewaarheid... ons is 3 weke swanger! Gister op Johan se verjaarsdag het ek gedag ek vat 'n kans en doen 'n huistoetsie, en so wrintiewaar sien ek toe 'n ligte tweede lyntjie.  Ek gaan toe later die dag om 'n ordentlike digitale toets te koop, want 'n ligte lyntjie het Johan nog nie heeltemal oortuig nie. En daar wys die beter toetsie toe mooi vir ons "Pregnant"!

Ek het vandag vir 'n hcg beta gegaan en my telling op 8 dae na 3 dag "transfer" (3weke) is 64! Die gemiddeld vir 3 weke is 0-50 so dit lyk of daar dalk twee broodjies in die oond kan wees! Of dit so is of nie, ons is verskriklik opgewonde en kan nie wag vir die volgende beta wat Vrydag is nie.  Van daar sal ons moet wag tot ek 6 weke swanger is om verseker te kan se hoeveel stelletjies klere ons moet koop :)

Ek wil net vir julle baie dankie se vir julle liefde en gebede en boodskappe deur hierdie moeilike pad, dit het dit verseker vir my meer "bearable" gemaak.  Bid asb vir 'n gesonde swangerskap en dat ek nie vir 'n oomlik hoef te twyfel dat alles sal goedgaan nie! 

Dankie Jesus! xxxx

Monday, June 11, 2012

Ek is PUPO!

Die fertiliteits forum se dames het 'n oulike seding as jy jou ET gehad het... jy is PUPO (Pregnant Until Proven Otherwise). Aan die begin het ek nie gedink dit is 'n goeie idee nie, want hoe erg sal die seer nie wees as jy jou bloedtoets aan die einde van die twee weke doen en dit het nie gewerk nie! Tot ek my eie Embrio inplanting gedoen het vanoggend en toe besef ek hoekom dit n goeie idee is, want op hierdie stadium is alle goeie gedagtes belangrik. Ons moet praat asof ek swanger is, want ek moet hoop he.  As dit wel negatief is op die ou end, kan ek dit dan op sy eie hanteer wanneer dit kom, so vir nou is ek PUPO!

Vanoggend toe ek daar aankom was die nuus nie te goed nie... ek het net 2 embrios oor van die 7 eierselle wat oorspronklik uitgehaal is.  Oornag het die ander twee so gefragmenteerd geraak dat hulle nie bruikbaar is nie, net soos op die fototjie van gister. Ek het toe 'n goeie 8 sel embrio oor sonder fragmentasie (soos die goeie foto in gister se post) en 'n 6 sel wat ook 'n bietjie gefragmenteer is (iewers tussen die goeie en die slegte een). Dit is die twee wat ons vanoggend ingeplant het.  Wat 'n belewenis... Johan het langs my gesit en my hand vasgehou terwyl ons gekyk het op die sonar masjien hoe die dr ons twee embies mooi plaas in die baarmoeder.  Hier is 'n fototjie van ons twee klein mikroskopiese embies...

Kliek op die foto om beter te sien.  As jy onder die groot swart kol in die middel kyk (dit is al die water wat ek moes drink om 'n vol blaas te he vir die prosedure), sal jy 'n helder wit lyn sien.  Onder daardie lyn is 'n wit sirkeltjie met 'n swart sirkeltjie om. As jy mooi kyk is daar eintlik twee wit sirkeltjies, en dit is die vloeistof waarin die twee klein embriotjies is :) As jy regs van daai twee klein helder wit kolletjies kyk sal jy 'n helder wit strepie sien, dit is die naald met die buis waarmee hulle die embrios geplaas het.


So vir nou is dit wag... twee elle lange weke se wag tot die 26ste Junie.  Dit voel aan die een kant soos 'n antiklimaks na al die harde werk, vroee oggende en "anticipation". Al wat oorbly is 'n daaglikse inspuiting en 'n paar pille, vir 2 volle weke lank... mag dit vinnig gaan!


Sunday, June 10, 2012

4 embrios oor

Vanoggend se nuus was nie die beste nuus nie.  2 van die 6 embrios is baie gefragmenteer. Dit beteken die selle verdeel oneweredig en nie skoon genoeg nie. Dit is soos brood wat mens breek, die krummels wat afval is onbruikbaar. Net so het daardie twee gefragmenteerde embrios baie onbruikbare selle in wat die embrio onbruikbaar maak. Die oorblywende 4 embrios is ook gefragmenteer, maar nie so baie nie, so ons hoop om die twee bestes van hulle in te plant.  Hulle het by vanoggend verdeel tot 4 en 6 selle afsonderlik. Die embrioloog het gese ek moet maar more oggend ingaan Vitalab toe want drV gaan more oggend besluit of ons 'n 3- of 6 dag inplanting gaan doen en dit is beter as ek reeds daar is om tyd te spaar as ons dit wel more oggend gaan doen.  Ek moet 8h daar wees, so bid maar vir goeie selle en 'n foutlose prosedure, ek sal laat weet as dit anders is, maar volgens die embrioloog lyk dit of dit more sal wees.

Dankie vir julle gebede x


'n Gefragmenteerde onbruikbare embrio. Soos jul kan sien is die selle nie ewe groot nie en daar is baie "broodkrummels"


'n Perfekte graad4,  8 sel embrio- hoe dit veronderstel is om te lyk.

Ek vermoed my 4 goeies is erens tussenin, maar sal julle laat weet sodra ek weet more.


Saturday, June 9, 2012

Fertilisasie

Ses uit die sewe eiers het oornag ge-fertiliseer! Ek is heel opgewonde en positief hieroor, nou moet hulle net vermeerder tot 8 of 10 selle dink ek... ek is nie heeltemal seker hoe dit nou werk nie, maar sal more oggend weer hoor hoe dit gaan.  Al wat ek weet is dat dit goed is as daar geen fragmentasie is nie.  So bid vir goeie embrios.... hier is 'n foto van goeie embrios wat julle kan visualiseer:

The first cleavage may occur as soon as 25h after insemination. The fast cleaving embryos are at the 4-cell stage on day 2 ( 44-46 h post insemination) and at the 8-cell stage on Day 3 (66-68h post insemination). As cleavages of human embryos are asynchronous, embryos at the 3, 5, 6,7 or 9-cell stage are frequently observed.



'n Digitale kaartjie wat my suster vir my gemaak het...  te oulik vir woorde, ek moes dit net deel.  Dankie Anne-Marie x

Friday, June 8, 2012

ER gedoen

Wat 'n wonderlike ervaring om In-Vitro te doen! Eergister was ek weer dou voor dag in Sandton en wat 'n wonderlike verrassing om te hoor dat ek 16 follikels gehad het! Daardie aand presies 8h moes ek my Trigger inspuiting kry wat die eiers presies 36 uur later vrystel (Maw vanoggend 8h). Gister oggend moes ek toe weer vir die laaste maal nog 'n progesteroon toets doen om seker te maak alles is reg en vandag was ek in vir die ER.

Ek het al gehoor die eerste vraag wat vouens altyd vra as hulle wakker word, is "Hoeveel eiers" en dit was ook nie anders met my nie! Hulle skryf dit so oulik op jou hand, dat jy nie aanmekaar hoef te vra nie, en ek dink ek het 3 maal gekyk en Johan herhaaldelik dieselfde vrae oor en oor gevra toe ek wakker geword het ha ha! Op my hand staan toe 7 eiers.  So hulle kon toe 7 eiers uitkry wat bruikbaar is van die 16.  Ek was nie te opgewonde daaroor nie, maar ek dink tog eerder 7 goeies as 16 swakkes, so ek is nou heel positief oor my 7... ons het tog net twee goeies nodig om terug te sit en dit sal nie die einde van die wereld wees as ons nie genoeg het om te vries vir 'n volgende siklus nie, want die een gaan mos nou werk :)

Oor die naweek gaan hulle my nou elke dag tussen 10 en 12 bel om te laat weet hoe gaan dit met die eiertjies... mag hulle uitbroei (aka fertiliseer)! Ek hou julle op datum x


Tuesday, June 5, 2012

13 aan boord!

Die week was vol afsprake en inspuitings, ek wens ek kon julle wys hoe lyk my maag... Pimpel en pers van die twee inspuitings wat ek moet kry elke dag! Saterdag se scan het 11 follikels opgelewer maar toe ons vanoggend daar kom het ek 13 gehad! DrV het baie bekommerd gelyk toe ek se dat ek nie ongemaklik voel nie, want met baie follikels is jy veronderstel om ongemaklik te voel- jy kan jou indink, want elke vrou maak gewoonlik net een elke maand, maar toe ons al daarde follikels sien was ons altwee baie bly!

So, more kry ek n trigger inspuiting wat die eiers na presies 36 uur vrystel en Vrydag is ER (Egg retrieval) en bleikbaar kan dit nogal ongemaklik en soms seer wees, so die naweek sal ek maar in die bed spandeer met n warmwater sakkie. Oor die naweek moet die eierselletjies bevrug word deur die sperms in die petri- bakkies en dan moet hul selle begin vermeerder. Twee van die beste embrios word dan Dinsdag in my baarmoeder geplaas en dan kom die groot wag vir twee weke! Bid asb vir vrydag se ER dat ons genoeg eierselle uit kry want hoe meer eierselletjies ons het om van te kies hoe beter! Ek hou jul op hoogte, so baie dankie vir al jul ondersteuning en gebede x