Monday, February 18, 2013

Van 29 weke tot 37 weke tot 'n week...!??!

Ek kan amper nie glo die tyd het so gou verby gegaan nie... laas toe ek gepost het was hulle 29 weke. Wel, surprise surprise hulle is nou hier en al 'n week oud!!!!

Ek het op 36-37 weke in swangerskap, ten spyte van 'n uitstekende swangerskap, begin vreeslik pyn he wat voel soos kraam. Die intensiteit was nog nie so hoog nie en dit was nie in intervalle nie so ek het nog nie gevoel dat dit nodig was om dokter toe te gaan nie, maar aan die einde van my 36ste week, Sondag die 10de Feb het dit skielik laat middag baie erg seer geraak. Ons het toevallig 'n vriendin in Stellenbosch gaan aflaai en het reg voor my hospitaal verby gery toe ons maar besluit het om daar in te draai vir veiligheid. Prys die Here ons het, want die masjiene het kontraksies gewys.... ek was in kraam, maar my serviks het nog glad nie begin ontsluit nie, maar die vreemde ding was dat my maag gelyk het of dit in kontraksie bly en nie daaruit gaan nie, veral gelokaliseer tot die boonste deel. My bloeddruk was ook vir die eerste keer hoog, wat 'n gevaar kan wees en dit was reg deur my swangerskap laag gewees. Dr het toe vermoed dat die plasentas dalk kan besig wees om los te skeur as my maag so styf bly vir so lank, en indien dit wel gebeur sou die babas dit nie maak nie. Sy het voorgestel dat ons liewer onmiddelik verlos aangesien daar nog nie tekens van stres was op die babas nie. Ek en Johan het toe dadelik ingestem want ons was nie bereid om so 'n kans te vat nie en 'n uur later, 10h30 is Hanle en Pieter gebore!!!! Ek kan dit amper nou nog nie glo nie.

Alhoewel my begeerte om normaal te kraam nie kon gebeur nie, sien ek absoluut God is hand in dit als want Pieter het eventueel heeltemal dwars gedraai in my baarmoeder en die koord was oor sy een skouer en onder die ander arm deur soos 'n handsak wat mens nie op die scans kon sien nie. Sou ons normaal gaan, sou daar baie moontlik komplikasies gewees het met sy geboorte en sou ek opeindig met normaal kraam en 'n keiser alles in een!

Ek moet se die Keiser was heeltemal bo my verwagting ongelooflik spesiaal gewees en ek sou daai ervaring vir niks in die wereld verruil nie!

Weereens dankie vir elkeen van julle se boodskappe, liefde en geduld deur hierdie hele proses, ek waardeer dit opreg!
















Friday, December 21, 2012

29 weke

Hi julle, ongelukkig geen fotos vandag nie, die dr het nie geneem nie en ek het nie gevra nie... Ai tog!  Dit gaan baie goed met altwee babas, hulle weeg altwee so om en by 1,2kg so ons is goed oppad. Ek is wel teleurgesteld oor my moontlikhede van normaal kraam wat al hoe slegter lyk. Dr het eintlik eers gese sy sal nie natuurlik verlos met Pieter wat brug lê nie en vir my al die nagmerrie- moontlikhede vertel wat alles met hom kan gebeur maar na 'n rukkie se praat het sy weer gese sy sal nog kyk na die moontlikheid, maar ek is nie regtig baie oortuig nie :( ek gaan nou weer met die twee vroedvroue praat wat gesê het hulle sal saam natuurlik verlos in 'n hospitaal en as hulle nie gemaklik voel nie sal ek maar moet oorgee. Op die ou einde is die tweeling se lewens eerste en ek wil ook nie kanse vat nie. Bid asb vir my vir vrede en rustigheid rondom die hele situasie en dat ek nie te veel sal vashou aan my eie "pre-conceived ideas" nie!

Lekker vakansie hou en geseënde Kersfees!

Thursday, December 20, 2012

27 Weke

Ek is eintlik nou al 29 weke en 3 dae, maar ek sien ek het 'n bietjie lanklaas gepost so ek skuld julle weer 'n fototjie! Hier is Pieter en Hanlé op 27 weke... op daardie stadium het hulle al afsonderlik 980g en 1.15 kg geweeg so ons is goed oppad en alles gaan nog baie goed... more het ek weer 'n scan so ek sal weer more 'n update gee :)

Eers moet ek seker wys hoe lyk mens van buite as jy twee babas in jou maag het op 27 weke...



Links is Pieter en voor hom is sy naelstring wat soos 'n teddiebeer in 'n bondel voor hom lê! Regs is Hanlé en links van haar is Pieter se boude wat sy probeer wegstoot met haar handjie. As ons nou al sou kon sê, wat ek seker is ons kan nie, lyk Pieter baie soos 'n van der Colff en Hanlé soos 'n Viviers :) Tot môre!

Wednesday, August 22, 2012

12 Weke en 2 dae!

Vandag was ek vir my 12 weke scan... ag julle, sal die dag ooit kom wat dit nie vir my 'n lewensveranderende oomblik is om hulle te sien nie? Elke scan is vir my 'n wonderwerk, elke stappie verder, elke week 'n mylpaal.  Hiér was ek nog nie, dít het ek nog nie gesien/ervaar nie... Prys my Liefste Vader vir Sy goedheid, genade en liefde in my lewe!!! Ek loop op hoogtes wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie, dit is absoluut fantasties!

Vandag het ek vir die eerste keer gegradueer na 'n Ginekoloog toe ná al die Fertiliteits-spesialis besoeke. Ek en Johan het van begin tot einde van daai scan gesmile, van oor tot oor :) Die enetjie is 6,3cm en die ander 6,1 cm. Die Ginekoloog moes 'n bietjie my maag druk om die enetjie te laat beweeg dat ons kan meet, toe lyk dit of hy/sy nounet wakker geword het.  Die armpies rek so in die lug en hy gaap toe twee keer! Hulle is net te qute vir woorde :)


Hier is 'n vooraansig. Die gesiggie lys soos 'n klein aliëntjie met die ogies, neusie en oop mondjie
(gaap seker alweer) Links en regs van die koppie sien mens die armpies en 'n handjie net onder die ken
En dan natuurlik die vette pensie en gevoude beentjies onder dit.


Hier het ons 'n kleine "crawling insect" aliëntjie :) Onder die pensie sien mens die armpies voor
en beentjies agter. Ogies en mondjie kan mens ook sien. 



Monday, July 30, 2012

9 weke scan

Wat 'n wonderwerk om ons twee kleine babatjies weer te sien vandag! Hulle lyk altwee so goed, drV het sommer gesmile en gese hulle is twee beautiful fetussies om te scan. Ons het twee gesonde koppies gesien, twee mooi armpies en beentjies elk en selfs die naelstringetjies... twee volledige klein mensies wat beweeg en alles! Die linkerkantste enetjie meet presies 9weke en is 23.1mm lank met 'n hartklop van 169. Die regterkantste een meet 'n daggie vooruit, 9w1dag en is 24.2mm lank met 'n hartklop van 170.
Hier is die tweetjies saam. Hulle lê nes tweelinge gewoonlik lê, die enetjie 
links is koppie na onder en die enetjie regs lê nou sleg om te sien, maar koppie na bo.

Die linkerste enetjie

Die regterkantste enetjie, mens kan hier 'n stukkie van die naelstring sien, 
die stertjie is al heeltemal weg.
Ek het ongelukkig nie fotos van die armpies en beentjies nie. 


Dit was so 'n snaakse gevoel toe ons vir die laaste keer daar uitstap vandag...  Ek was nie hartseer om totsiens te sê nie, maar 'n vreemde heimwee het my daar uit gevolg... tsv die moeilik, het ek ure daar gespandeer en het dit 'n baie familiere gevoel gelaat.  Nooit weer sal ek hiernatoe hoef te kom nie... dit was moeilik en tuff, maar nou is dit verby! Prys die Here! Hier het ek gou 'n fototjie geneem voor ons finaal-totsiens in die hysbak klim...


Tuesday, July 17, 2012

En toe is daar twee!

Wat 'n verrassing toe drV gister vir die suster tydens my eerste scan sê "I stand corrected, daar is twee!" Ek en Johan is in ekstase en begin al klaar dink oor hoe gaan hulle slaap, watter kar sal die beste wees ens! Dit was die wonderlikste ding tot dusver in my lewe om daardie twee perfekte hartkloppies te hoor wat perfek klop teen 144bpm! Ek het trane in my oë gehad. Die tweetjies meet altwee presies 7weke gister soos dit is so hulle is spekvet en gesond :) Ek en Johan is so ongelooflik opgewonde en dankbaar vir hierdie kosbare geskenk wat ons van Vader ontvang het... N regte dubbel seening, dankie Here!


Bid asb vir my hart dat ek nie te bekommerd is oor die tweetjies nie, hulle het so diep in my hart al ingekruip, ek vertrou Vader vir n "uneventful" swangerskap! Liefde

Friday, June 22, 2012

Goeie Beta!

Goeie nuus, my hcg beta telling is vandag baie goed.  Die telling vandag is 152, so dit het meer as verdubbel van 64 af. Dit lyk nie soos 'n tweeling swangerskap nie, so ons is eerlikwaar 'n bietjie verlig, so veel soos ons ook opgewonde sou wees oor 'n tweeling, maar die 6 week scan sal definitief kan se.  Ek het al 'n scan datum, maar Johan is dan in Londen so ek wil dit eers skuif en sal julle dan laat weet wanneer dit sal wees.

Ek is oorweldig van vreugde en is so dankbaar vir God se genade en liefde vir ons. Ek is ook so baie dankbaar vir elkeen van julle se gebede en liefde in hierdie journey... ons journey is nog nie tot 'n end nie, maar 'n nuwe een het nou begin en ek kan nie genoeg vir God dankaar se vir so 'n wonderlike voorreg nie, en dan is die beta telling nog so goed dat ek nie hoef te wonder daaroor nie! Amazing

Dan het ons nog baie goeie nuus.... Ons het nie net hierdie blessing van 'n positiewe toets gekry op Johan se verjaarsdag nie, ons het NOG 'n HUGE blessing gekry... n dubbel blessing! Ons trek Kaap toe! Ons het al 'n rukkie daaraan begin dink en uitgewerk hoe ons dit sal doen en toe ons vir Johan se verjaarsdag Kaap toe gaan het ons sowaar ons droomhuis in 'n droom Estate gekry op sy verjaarsdag, minute nadat ek op 'n tuis toets stokkie gepiepie het :) Ons trek 1 September na Zevenwacht Estate buite Kuilsrivier, so 20 min van Stellenbosch en 20 min van Durbanville en 20min van die lughawe af. Johan gaan nog twee keer 'n week vlieg, maar hy gaan darem elke aand by die huis slaap so dit is goed.  n Double portion indeed! In die verloop van 'n uur het my wildste drome waar geword en op 'n manier wat ek nooit sou kon raai nie. God is goed!

Wednesday, June 20, 2012

Positief!! :)

Liefste familie en vriende, na 5 en 'n half jaar se gebede is ons wildste drome bewaarheid... ons is 3 weke swanger! Gister op Johan se verjaarsdag het ek gedag ek vat 'n kans en doen 'n huistoetsie, en so wrintiewaar sien ek toe 'n ligte tweede lyntjie.  Ek gaan toe later die dag om 'n ordentlike digitale toets te koop, want 'n ligte lyntjie het Johan nog nie heeltemal oortuig nie. En daar wys die beter toetsie toe mooi vir ons "Pregnant"!

Ek het vandag vir 'n hcg beta gegaan en my telling op 8 dae na 3 dag "transfer" (3weke) is 64! Die gemiddeld vir 3 weke is 0-50 so dit lyk of daar dalk twee broodjies in die oond kan wees! Of dit so is of nie, ons is verskriklik opgewonde en kan nie wag vir die volgende beta wat Vrydag is nie.  Van daar sal ons moet wag tot ek 6 weke swanger is om verseker te kan se hoeveel stelletjies klere ons moet koop :)

Ek wil net vir julle baie dankie se vir julle liefde en gebede en boodskappe deur hierdie moeilike pad, dit het dit verseker vir my meer "bearable" gemaak.  Bid asb vir 'n gesonde swangerskap en dat ek nie vir 'n oomlik hoef te twyfel dat alles sal goedgaan nie! 

Dankie Jesus! xxxx

Monday, June 11, 2012

Ek is PUPO!

Die fertiliteits forum se dames het 'n oulike seding as jy jou ET gehad het... jy is PUPO (Pregnant Until Proven Otherwise). Aan die begin het ek nie gedink dit is 'n goeie idee nie, want hoe erg sal die seer nie wees as jy jou bloedtoets aan die einde van die twee weke doen en dit het nie gewerk nie! Tot ek my eie Embrio inplanting gedoen het vanoggend en toe besef ek hoekom dit n goeie idee is, want op hierdie stadium is alle goeie gedagtes belangrik. Ons moet praat asof ek swanger is, want ek moet hoop he.  As dit wel negatief is op die ou end, kan ek dit dan op sy eie hanteer wanneer dit kom, so vir nou is ek PUPO!

Vanoggend toe ek daar aankom was die nuus nie te goed nie... ek het net 2 embrios oor van die 7 eierselle wat oorspronklik uitgehaal is.  Oornag het die ander twee so gefragmenteerd geraak dat hulle nie bruikbaar is nie, net soos op die fototjie van gister. Ek het toe 'n goeie 8 sel embrio oor sonder fragmentasie (soos die goeie foto in gister se post) en 'n 6 sel wat ook 'n bietjie gefragmenteer is (iewers tussen die goeie en die slegte een). Dit is die twee wat ons vanoggend ingeplant het.  Wat 'n belewenis... Johan het langs my gesit en my hand vasgehou terwyl ons gekyk het op die sonar masjien hoe die dr ons twee embies mooi plaas in die baarmoeder.  Hier is 'n fototjie van ons twee klein mikroskopiese embies...

Kliek op die foto om beter te sien.  As jy onder die groot swart kol in die middel kyk (dit is al die water wat ek moes drink om 'n vol blaas te he vir die prosedure), sal jy 'n helder wit lyn sien.  Onder daardie lyn is 'n wit sirkeltjie met 'n swart sirkeltjie om. As jy mooi kyk is daar eintlik twee wit sirkeltjies, en dit is die vloeistof waarin die twee klein embriotjies is :) As jy regs van daai twee klein helder wit kolletjies kyk sal jy 'n helder wit strepie sien, dit is die naald met die buis waarmee hulle die embrios geplaas het.


So vir nou is dit wag... twee elle lange weke se wag tot die 26ste Junie.  Dit voel aan die een kant soos 'n antiklimaks na al die harde werk, vroee oggende en "anticipation". Al wat oorbly is 'n daaglikse inspuiting en 'n paar pille, vir 2 volle weke lank... mag dit vinnig gaan!


Sunday, June 10, 2012

4 embrios oor

Vanoggend se nuus was nie die beste nuus nie.  2 van die 6 embrios is baie gefragmenteer. Dit beteken die selle verdeel oneweredig en nie skoon genoeg nie. Dit is soos brood wat mens breek, die krummels wat afval is onbruikbaar. Net so het daardie twee gefragmenteerde embrios baie onbruikbare selle in wat die embrio onbruikbaar maak. Die oorblywende 4 embrios is ook gefragmenteer, maar nie so baie nie, so ons hoop om die twee bestes van hulle in te plant.  Hulle het by vanoggend verdeel tot 4 en 6 selle afsonderlik. Die embrioloog het gese ek moet maar more oggend ingaan Vitalab toe want drV gaan more oggend besluit of ons 'n 3- of 6 dag inplanting gaan doen en dit is beter as ek reeds daar is om tyd te spaar as ons dit wel more oggend gaan doen.  Ek moet 8h daar wees, so bid maar vir goeie selle en 'n foutlose prosedure, ek sal laat weet as dit anders is, maar volgens die embrioloog lyk dit of dit more sal wees.

Dankie vir julle gebede x


'n Gefragmenteerde onbruikbare embrio. Soos jul kan sien is die selle nie ewe groot nie en daar is baie "broodkrummels"


'n Perfekte graad4,  8 sel embrio- hoe dit veronderstel is om te lyk.

Ek vermoed my 4 goeies is erens tussenin, maar sal julle laat weet sodra ek weet more.


Saturday, June 9, 2012

Fertilisasie

Ses uit die sewe eiers het oornag ge-fertiliseer! Ek is heel opgewonde en positief hieroor, nou moet hulle net vermeerder tot 8 of 10 selle dink ek... ek is nie heeltemal seker hoe dit nou werk nie, maar sal more oggend weer hoor hoe dit gaan.  Al wat ek weet is dat dit goed is as daar geen fragmentasie is nie.  So bid vir goeie embrios.... hier is 'n foto van goeie embrios wat julle kan visualiseer:

The first cleavage may occur as soon as 25h after insemination. The fast cleaving embryos are at the 4-cell stage on day 2 ( 44-46 h post insemination) and at the 8-cell stage on Day 3 (66-68h post insemination). As cleavages of human embryos are asynchronous, embryos at the 3, 5, 6,7 or 9-cell stage are frequently observed.



'n Digitale kaartjie wat my suster vir my gemaak het...  te oulik vir woorde, ek moes dit net deel.  Dankie Anne-Marie x

Friday, June 8, 2012

ER gedoen

Wat 'n wonderlike ervaring om In-Vitro te doen! Eergister was ek weer dou voor dag in Sandton en wat 'n wonderlike verrassing om te hoor dat ek 16 follikels gehad het! Daardie aand presies 8h moes ek my Trigger inspuiting kry wat die eiers presies 36 uur later vrystel (Maw vanoggend 8h). Gister oggend moes ek toe weer vir die laaste maal nog 'n progesteroon toets doen om seker te maak alles is reg en vandag was ek in vir die ER.

Ek het al gehoor die eerste vraag wat vouens altyd vra as hulle wakker word, is "Hoeveel eiers" en dit was ook nie anders met my nie! Hulle skryf dit so oulik op jou hand, dat jy nie aanmekaar hoef te vra nie, en ek dink ek het 3 maal gekyk en Johan herhaaldelik dieselfde vrae oor en oor gevra toe ek wakker geword het ha ha! Op my hand staan toe 7 eiers.  So hulle kon toe 7 eiers uitkry wat bruikbaar is van die 16.  Ek was nie te opgewonde daaroor nie, maar ek dink tog eerder 7 goeies as 16 swakkes, so ek is nou heel positief oor my 7... ons het tog net twee goeies nodig om terug te sit en dit sal nie die einde van die wereld wees as ons nie genoeg het om te vries vir 'n volgende siklus nie, want die een gaan mos nou werk :)

Oor die naweek gaan hulle my nou elke dag tussen 10 en 12 bel om te laat weet hoe gaan dit met die eiertjies... mag hulle uitbroei (aka fertiliseer)! Ek hou julle op datum x


Tuesday, June 5, 2012

13 aan boord!

Die week was vol afsprake en inspuitings, ek wens ek kon julle wys hoe lyk my maag... Pimpel en pers van die twee inspuitings wat ek moet kry elke dag! Saterdag se scan het 11 follikels opgelewer maar toe ons vanoggend daar kom het ek 13 gehad! DrV het baie bekommerd gelyk toe ek se dat ek nie ongemaklik voel nie, want met baie follikels is jy veronderstel om ongemaklik te voel- jy kan jou indink, want elke vrou maak gewoonlik net een elke maand, maar toe ons al daarde follikels sien was ons altwee baie bly!

So, more kry ek n trigger inspuiting wat die eiers na presies 36 uur vrystel en Vrydag is ER (Egg retrieval) en bleikbaar kan dit nogal ongemaklik en soms seer wees, so die naweek sal ek maar in die bed spandeer met n warmwater sakkie. Oor die naweek moet die eierselletjies bevrug word deur die sperms in die petri- bakkies en dan moet hul selle begin vermeerder. Twee van die beste embrios word dan Dinsdag in my baarmoeder geplaas en dan kom die groot wag vir twee weke! Bid asb vir vrydag se ER dat ons genoeg eierselle uit kry want hoe meer eierselletjies ons het om van te kies hoe beter! Ek hou jul op hoogte, so baie dankie vir al jul ondersteuning en gebede x

Tuesday, May 29, 2012

Oeps, hier gaat ons sowaar!

Alles lyk mooi goed en ek is vanoggend weg by die fertiliteits kliniek met 'n pers "coolbaggie" propvol inspuitings en pille.... kan nie glo ek gaan dit alles in een maand inneem nie, en dit is nog nie eers alles nie! Onder andere het ek medikasie gekry vir 'n onderaktiewe skildklier... dis 'n nuwe ding vir my, so dalk help dit ook, want jou skildklier moet reg funksioneer om swanger te kan word.  Ek het ook vandag begin met my 3 liter water 'n dag... julle, dit is BAIE! 2 Liter is een ding, maar 3 liter is regtig baie.

My eerste inspuiting is ingespuit vandag en Johan gaan omtrent "skilled" moet raak om die drie botteltjies met die ampule te meng en in te spuit elke oggend maar ons is gereeed! Ons het sommer ook besluit om twee eierselletjies terug te sit (mag daar asb eierselletjies wees om terug te sit) so as dit nou 'n tweeling is dan doen ons dit sommer eensklaps... wies bang??

Ons volgende scan is Saterdag, ek sal julle laat weet hoe dit gaan.

Groete x


Monday, May 28, 2012

Oops, there you go!

Mense het 'n gewoonte om vir ons arme sielietjies wat so sukkel te se "Moet net nie daaroor dink nie, dan sal dit gebeur wanneer jy dit die minste verwag, jy sal sien" Dit volg ook gewoonlik met "My vriendin se broer se skoonsuster het... (bla bla bla) ... en toe word sy swanger, kan jy glo!" In plaas van om te se Ja, ek kan dit glo want ek het al amper 100 sulke stories gehoor, se ek maar net "haai regtig, wow dit is soos jy se." Daar is 'n hele chatroom oor "wat om nie te se nie" op die forum waaraan ek behoort, maar wat sal dit nou help? Dit is immers ons wat die probleem het daarmee, nie die arme vriende en familie wat tog net iets probeer se, want wat se jy nou na 2, 4, 6, 8, 10 jaar?


Ek kry vanmiddag so lekker lag soos ek in dr. Volschenk se spreekkamer sit, in afwagting om ons plan van aksie te hoor.  Ek lees 'n vrou, Beth Ditto se antwoord op haar suster se aanmerking: " My sister was like: "youre never going to have a baby if you think about it too much!" But I have to think about it. I can't just lay down and be like, oops, there you go!" Verbeel jou dit... no worries... oeps, there you go... en net so word mens swanger!


Ons stap toe aan na dr.V se spreekkamer.  Hy le die feite op die tafel... dit gebeur nie vir ons nie.  Ons is jonk, daar lyk nie te veel fout nie, maar tog kry ons dit nie eers met hulp reg nie.  Daar moet iets anders fout wees en die beste wat ons kan sien wat is fout, is om ivf te doen sodat ons 'n bietjie kan kyk wat gaan aan met daardie eierselletjies.  Ons kry 'n paar keuses... een of twee eierselletjies?? Een het 'n ?-50% kans om te werk, maar twee het ?-55% kans om te werk.  In die infertiliteits wereld is daardie 5% baie, so dit is iets om te oorweeg, maar in my ouderdomsgroep het ons 'n 47% kans dat dit 'n tweeling kan wees as ons wel swanger is... eks nie bang nie, maar sal nog met die baas(Johan) moet gesels oor daardie ene!?! Net soos hy oppad is om ons uit te stuur met besluite se Johan, "maar Els is nou by dag 1, en ivf moet jy op dag 2 begin, so kan ons nie sommer die maand wegval met ivf nie?" Oeps, there you go... ons doen ivf die maand! Ek kan dit amper nie glo nie... in 1 uur het ek van ekstase na vrees na stres na naar gegaan! Senou dit werk nie maar senou dit doen, en, en, en! 


So, om die lang storie kort te maak, nou moet ons hard bid vriendinne want hierdie storie kos GELD! Ek prys die Here ons het geld vir die een maar as dit nie werk nie, verloor ons alles en sal ons weer moet spaar vir nog een. Hou my asb in julle gedagtes want hierdie storie is nie maklik nie... ons sit met 'n pakkie instruksies... more weer scan om te sien of ons wel kan voortgaan met die ivf (daar mag geen sists wees, die baarmoeder wand moet heeltemal dun wees om mee te begin en, en, en ) Dan kry ons inspuitings en medikasies (wat Johan vir my moet inspuit elke dag) en die week volg met scans en scans.  Ons hoop dan om baie eierselle te kry sodat hulle genoeg kan kry om van te kies.  Die beste kwaliteit word gekies en gewas.  Die sperm monster word ook gewas en duisende word saam met die eierselletjies in 'n petri dish ingesit sodat die beste mannetjies steeds eerste kan wees.  Dit word dopgehou en na die selle ge-fertiliseer het en begin verdubbel, vat hulle die beste een/twee en dit word teruggeplaas in my baarmoeder.  Ek kan amper nie glo inplanting is al wat nodig is nie... selfs my hormone word tot uiterste spesifikasies beheer sodat alles perfek is. AL wat nodig is, is inplanting, en tog werk dit nie altyd nie, of 'n miskraam gebeur kort na dit gewerk het.  JULLE, bid asb!


Oops, here we go... hopelik is dit binnekort "oops, here we go en dan is ek swanger" of is dit dan "oops we did it again?"

Wednesday, May 16, 2012

Timing is the Father's business.

'n Wonderlike vriendin van my wat saam met my die moeilike pad van "wag" loop, lees vanoggend by die Bybelstudie vir ons 'n versie uit die Message. Om nou eers te verduidelik waaroor dit gaan; Ons is nou in Handelinge waar Lukas die storie vertel van Jesus se 40 dae op die aarde nadat hy opgestaan het. In hierdie versie se hy wat Jesus se laaste woorde was voordat hy opgevaar het. Die Apostels het Jesus gevra wanneer Hy die koninkryk aan Israel gaan herstel... "Is dit nou?" het hulle gevra. Hy antwoord hulle toe in Handelinge 1:7 "You don't get to know the time. Timing is the Father's business.  What you'll get is the Holy Spirit... "

Wow! Die Message stel dit darem so mooi en eenvoudig.  Tydsberekening is nie my besigheid nie, dit is die Vader se besigheid, maar Hy gee vir my die Heilige Gees om my te lei. Met ons volgende behandelings wat oppad is rondom volgende week sien ek weer vreeslik op daarna, en kan ek nie help om weer te twyfel of ek nou in God se pad vir Sy plan vir ons staan deur behandeling te kry nie.  Soms wonder ek steeds of God my nie reeds volkome sou genees het as Hy wou nie... en ek dink Hy sal as Hy wil, maar soms leer ons so baie uit die journey dat Hy ons nie wil ontneem daarvan om dag vir dag voor Sy voete te sit met die worsteling nie.

Ek herinner myself ook vandag wanneer ek so twyfel of ek die regte ding doen, aan Lea wat vir Ragel haar seun se "mandrakes" verkoop het sodat sy vanaand by Jakob kan gaan le... klink nogal soos 'n sepie, maar so verkeerd soos dit klink, dit het gebeur en Ragel het dit gedoen sodat sy die "mandrakes", wat bleikbaar talle doele gehad het, onder andere kon gebruik as fertiliteits-medisyne om te kan swanger raak.  En weet julle wat, later in daardie hoofstuk staan daar dat God haar onthou het, en Hy het haar 'n kind gegee. Ek herinner myself dat die mense al daardie tyd medisyne gebruik het, en God hulle nogsteeds geseen het.  Het sy in die plek gestaan van God se tyd vir haar? Nee. Sou sy swanger geword het as sy nie die medisyne gebruik het nie? Ek wonder? Hoe dit okal sy, God het haar hart gesien en Hy het haar onthou. Mag God my ook onthou, en ek weet Hy sal!

Tuesday, May 1, 2012

Wag-'n-bietjie-bos

Dikwels as ons in die wildtuin rondry, dan vang die wag-n-bietjie-bos my oog en dan begin ek weer dink... gewoonlik oor kinders, maar dikwels ook oor ander dinge wat ek soms wil laat gebeur voor dite tyd reg is. Die wag-'n-bietjie-bos het mos sulke haak-doringkies wat jou gryp as jy by hom verbystap om te se "Wag 'n bietjie... nie so gou nie.  Staan net eers bietjie stil en wees geduldig. Moenie so verby jaag nie!" As jy jouself losgemaak het van die haakies is jou klere dalk gahaak of selfs geskeur... dit is die prys van haastig wees.

Vandag kom ek in 'n bybelstudie af op 'n interressante ding... In Hebreeus is die woord "wag" die naaste aan hoop.  Dit is dieselfde woord wat ons as hoop gebruik, maw as jy dit in Engels of Afrikaans lees is dit Hope of Hoop, maar as jy dit vertaal in Hebreeus, is daardie woord ook Wag!!! Dit het my nogal laat dink aan hoop... want as jy nie meer hoop het nie, wag jy ook nie meer nie.  Jy gaan maar aan, en dikwels vinnig ook, om van die seer te vergeet, maar as jy so vinnig gaan, haak jou klere weer aan die wag-'n-bietjie-bos vas en dan kry in elkgeval seer!

Ek sal maar liewer wag... want ek het hoop, al is dit soms moeilik om aan vas te hou.

So van die os op die jas: Ek kom toe op nog iets af.
My vriendin Louise gee my 'n versie:
SPREUKE 30:15 Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! 16 die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit sê: Genoeg nie!
Net soos mense wat sukkel om iemand aan die dood af te staan (v16 die doderyk) is dit ook moeilik vir vroue wat sukkel om swanger te raak. Verseker nie dieslefde nie, maar steeds onversadig.  Dit was 'n ongelooflike verligting- die feit dat dit in die Bybel staan... God weet en verstaan hoe moeilik dit is en dit is ok. Ek het besef dat dit normaal is vir my om so 'n "unquenched thirst" te he vir 'n kleine babatjie. Die Bybel se dit sal so wees. En dit is so. Ek is 'n mens! En dit is ok.

Wednesday, April 25, 2012

Die ding van seerkry...

 Ek het julle al voorheen vertel dat ek deel is van 'n forum waar daar baie vrouens is soos ek wat sukkel met infertiliteit.  Een van my kuber- vriendinne het hierdie op haar blog gepost en dit het my sommer weer geinspireer om weer te begin skryf... Ek is maar bra bang om dit te doen, want ek is bang as ek begin sal ek nie ophou nie en sal ek dalk soos 'n "hermit" raak wat nie meer normaal met mense kan kommunikeer nie... of dalk begin ek uitmekaar uit val en kan ek nie weer aanmekaar gesit word nie... maar ek dink ek sal dit probeer... een of ander tyd sal ek weer begin skryf! Hierdie verduidelik so 'n bietjie:


Die ding van seerkry…


Daar is eintlik maar net twee maniere om Seerkry te hanteer - jy kan vir hom probeer weghardloop of jy kan deur hom werk. Instinktief kies ek eersgenoemde. Ek gryp vir Hoop aan die hand en begin hardloop om van Seerkry af weg te kom. Maar dit maak nie saak hoe vinnig ek hardloop nie, uit die hoek van my oog sien ek Seerkry hou by. Hy bly net naby genoeg om stukkies van Hoop, waaraan ek so desperaat klou, af te breek. Maar ek hardloop vinniger en voer Hoop vet met wonderwerk-stories van die internet, bemoedigende sms’e van familie en vriende en Bybelversies.
Maar Seerkry gee nie op nie en ruk later vir Hoop los. Ek hardloop terug huis toe en slaan die deur in Seerkry se gesig toe. Ek loer kort-kort, maar Seerkry bly voor die deur lê, hy gaan nêrens. Wel, dan bly ek net hier, besluit ek. Maar ek weet diep binne in my, die lewe gaan aan, en een of ander tyd moet ek weer by die deur uitgaan. En voor ek dit kan doen, sal ek deur Seerkry moet werk.
Maar die woorde kom nog nie verby die knop in my keel. So, ek begin my gevoelens op papier sit en stoot dit stukkie vir stukkie onder deur die deur na buite. En ek weet as ek alles uit het, sal Seerkry tevrede wees en wegbeweeg van die deur sodat ek kan uitgaan en die son weer op my gesig voel.
-Lee1

Natuurlik moet mens nooit hoop se hand los nie, maar mens voel soms, om nie seer te kry nie, dat jy hoop so bietjie moet nalaat - ek weet, ek weet, mens moenie maar dit is hoe jy voel. Ten spyte van die seerkry glimlag ons nog, so die lewe gaan aan, en daar sal nog baie seerkry wees, maar ons het mekaar en dit is al wat ons nou nodig het!

Ons recover lekker in die bos by die Addo Olifant Park
Na die stretch is dit weer terug na werk, nog 'n maand
om te gaan voor ons volgende behandelings... die rus 
doen ons werelde se goed!

Saturday, April 21, 2012

Toe nou nie


Na nog scans en scans en vier verskillende medikasies het ek weereens 'n negatief. Ek moet sê dit voel soms of dit nooit gaan gebeur nie, maar oor die algemeen is ek positief en glo ek nog in wonderwerke... Bid asb vir my geloof, dat dit nie sal wankel nie en dat ek steeds in God se wil sal bly met Sy regte tyd vir my.

Van hier af gaan ons nou met Dr Volschenk gesels om te sien wat ons gaan doen van hier af. Dit mag dalk nog n tymed cycle wees soos die keer of ons mag dalk oorgaan na iui (intra uterine injection- waar hulle die sperm in die uterus in plaas dan moet hulle nog hul eie weg vind) of dalk ivf (in vitro fertilisation- waar hulle die sperm binne in die eiersel groei in 'n "petri- dish"), ons sal maar moet wag en sien. Dankie vir jul ondersteuning, dit beteken so onverklaarbaar baie vir my! Ons probeer weer volgende maand.

Liefde x

Wednesday, March 28, 2012

Tweede Scan

Die tweede scan op dag8 is agter die rug... Dit was 'n 5 uur ekspedisie vandat ek en Johan opgestaan het tot ons terug is by die werk so dit was baie uitputtend! Gewoonlik is dit korter as dit, maar die keer was daar ietsie wat nie lekker gelyk het nie, en toe moes ek eers vir bloedtoetse gaan. 
Die dr het my eierstokke gescan en toe het ons eers gedink daars fout want die een follikel was al 18mm, maar my baarmoeder wand was net 4,7mm ipv 8mm, maar na die estrogeen en progesteroon toetse het hulle bevestig dat daardie 'n "fake" follikel was en nie hormone dra nie, so ons is toe terug na 'n 11mm follikel wat ons gedink het nie veel is nie, maar hy stem ooreen met die 4,7mm baarmoeder wand, so dit beteken maar net dat allles bietjie stadig gegroei het. Ek het toe vandag twee Menopur inspuitings gekry (een vanoggend en een wat Johan more vir my moet inspuit) wat basies die follikels 'n kick-start gaan gee.  Ons scan weer Vrydag om te sien of dit genoeg gegroei het… dit moet tot by 18mm gaan voordat ons die Ovidrel inspuiting kan gebruik wat Ovulasie trigger. Ek laat weet Vrydag hoe dit gegaan het!  
Liefde