Wednesday, April 25, 2012

Die ding van seerkry...

 Ek het julle al voorheen vertel dat ek deel is van 'n forum waar daar baie vrouens is soos ek wat sukkel met infertiliteit.  Een van my kuber- vriendinne het hierdie op haar blog gepost en dit het my sommer weer geinspireer om weer te begin skryf... Ek is maar bra bang om dit te doen, want ek is bang as ek begin sal ek nie ophou nie en sal ek dalk soos 'n "hermit" raak wat nie meer normaal met mense kan kommunikeer nie... of dalk begin ek uitmekaar uit val en kan ek nie weer aanmekaar gesit word nie... maar ek dink ek sal dit probeer... een of ander tyd sal ek weer begin skryf! Hierdie verduidelik so 'n bietjie:


Die ding van seerkry…


Daar is eintlik maar net twee maniere om Seerkry te hanteer - jy kan vir hom probeer weghardloop of jy kan deur hom werk. Instinktief kies ek eersgenoemde. Ek gryp vir Hoop aan die hand en begin hardloop om van Seerkry af weg te kom. Maar dit maak nie saak hoe vinnig ek hardloop nie, uit die hoek van my oog sien ek Seerkry hou by. Hy bly net naby genoeg om stukkies van Hoop, waaraan ek so desperaat klou, af te breek. Maar ek hardloop vinniger en voer Hoop vet met wonderwerk-stories van die internet, bemoedigende sms’e van familie en vriende en Bybelversies.
Maar Seerkry gee nie op nie en ruk later vir Hoop los. Ek hardloop terug huis toe en slaan die deur in Seerkry se gesig toe. Ek loer kort-kort, maar Seerkry bly voor die deur lê, hy gaan nêrens. Wel, dan bly ek net hier, besluit ek. Maar ek weet diep binne in my, die lewe gaan aan, en een of ander tyd moet ek weer by die deur uitgaan. En voor ek dit kan doen, sal ek deur Seerkry moet werk.
Maar die woorde kom nog nie verby die knop in my keel. So, ek begin my gevoelens op papier sit en stoot dit stukkie vir stukkie onder deur die deur na buite. En ek weet as ek alles uit het, sal Seerkry tevrede wees en wegbeweeg van die deur sodat ek kan uitgaan en die son weer op my gesig voel.
-Lee1

Natuurlik moet mens nooit hoop se hand los nie, maar mens voel soms, om nie seer te kry nie, dat jy hoop so bietjie moet nalaat - ek weet, ek weet, mens moenie maar dit is hoe jy voel. Ten spyte van die seerkry glimlag ons nog, so die lewe gaan aan, en daar sal nog baie seerkry wees, maar ons het mekaar en dit is al wat ons nou nodig het!

Ons recover lekker in die bos by die Addo Olifant Park
Na die stretch is dit weer terug na werk, nog 'n maand
om te gaan voor ons volgende behandelings... die rus 
doen ons werelde se goed!

No comments: